NG Kerk Vredenburg vandag

Die Kerk se Storie

Die kerk se storie is ook die storie van die Agterbaai - die eens onherbergsame, sanderinge en winderige streek wes van Hopefield. Die romantiek van die streek lê juis in sy afgesonderdheid – amper vergete deur die vinnig ontwikkelende streke na die binneland – en die byna genadelose manier waarop dit deur die Kaapse owerhede bejeën is.

Dit was ook hierdie ongenaakbaarheid wat sy mense geskaaf en geskuur het. Die hunkering na 'n kerk was sentraal in hulle strewe. 'n Eie kerk sou nie maklik kom nie. Stremmende faktore soos armoede, herhaaldelike droogtes en die kwasterigheid van die mense, wat 'n harde grenslewe moes hanteer, was 'n remskoen. Bowenal het die sand kommunikasie te perd, soos almal maar moes reis, baie uitputtend gemaak. Die plan was om net éérs van Malmesbury en later van Hopefield se gemeentes af te stig.

Dienste is op plase gehou en die lang reis is dikwels na Hopefield onderneem om hul saak te stel aan ds JH Neethling, wat self maar selde, weens die harde omstandighede, huisbesoek kon aflê. Maar altyd was die realiteit die gebrek aan geld. Toe WPJ Baard in 1868 vyf morg grond van sy plaas Honigklip as kerkgrond geskenk het, is die fondament vir die kerkgebou gelê, hoewel nog steeds deel van die Hopefield gemeente.

 

Om 'n naam te kry:

Die plek waar die kerk gebou is, het Prosesfontein geheet. En Prosesfontein was die buurman van Twisfontein! Twisfontein het sy naam gekry vanweë die suiping wat net suid van die kerk was en waar boere om die beurt hul vee kon laat suip op 'n basis van eerste daar, eerste geholpe. Gemoedere het dikwels hoog geloop - die fontein kon nie vinnig genoeg water laat uitsyfer nie.

Met 'n kerk wat in die sweet van die gemeente se aanskyn, maar met sulke goeie verwagtinge, gebou is, het ds JH Neethling en sy besoekende neef van Stellenbosch, nog 'n ds JH Neethling met die inwyding van die kerkgebou gedink Prosesfontein skel ten hemele. Eindelik het die voor die handliggende inspirasie gekom: Vredenburg, het die twee dominees besluit.

Van die grond is verkoop om huise te laat bou, onder andere ook 'n poskantoor en 'n polisiestasie.  Die Anglo Boere-oorlog het Vredenburg getref én die kerk se strewe om gou af te kan stig. Van die vooraanstaande 

gemeentelede is gearresteer omdat hulle glo die Boeremagte ondersteun het. Kort na vrede gesluit is, het Vredenburg op 18 November 1902 volwaardig afgestig - met Saldanha en St Helenabaai as deel van die gemeente. 

 

Die kerk gooi sy mantel wyd:

Die kerk sou die spilpunt word van die dorp se ontwikkeling. In 1906 moes die kerk vergroot word. Argitek Hesse het van die Kaap gekom en die kerk sy sierlike grondplan gegee. 

Later sou 'n toring aangebring word en 'n kerksaal (die huidige landdroshof) gebou word. 'n Hoërskool sou onder die kerkraad se ywer gebou word. 'n Orrel is deur die Stephan-gesin geskenk en 'n dinamiese Christelike Strewers-vereniging het 'n merkwaardige opheffingsrol gespeel, veral toe die Tweede Wêreldoorlog inbreuk gemaak het op maatskaplike toestande. 

Nooit 'n ryk gemeente nie, het die kerk tog 'n wye sendingaksie gehad en mildelik steun verleen aan verafgeleë sendingstasies. In die eerste vyftig jaar het slegs vier predikante die gemeente bedien. Daarna het die predikante mekaar dikwels afgewissel. In 1958 moes die gemeente 'n medeleraar beroep. In 1974 het Akkerdyk afgestig. Mettertyd sou Saldanha ook afstig. Met die Sishen Saldanhalyn het Vredenburg die kommersiële sentrum van die streek geword. St Helenabaai het in 1997/8 sy eie kerkgebou opgerig en in Oktober 2005 afgestig.

 

Nou staan die Moederkerk soos 'n baken, sy toring van oral af sigbaar.

 

 

Lidmaat Statistiek

(Augustus 2014)

 

Belydende lidmate:

1264 (82.67%)

 

Dooplidmate:

265 (17.33%)

 

Totaal 1526

Who's Online

We have 2516 guests and one member online